'n Bord vol Breins
CH van der Westhuizen
Voorwoord
Hoe ver kan ʼn mens in ʼn woud inloop, wat 2 km wyd en 5 km lank is? Die antwoord is: Jy kan net halfpad inloop, want daarna loop jy weer uit. Die km was net om jou deurmekaar te maak.
Nog een. Hoeveel grond is in ʼn gat van 1 meter wyd, 2 meter lank en 50 cm diep? Jy is reg as jy “niks” geraai het. Laaste enetjie. Indien die barbier al die mense skeer wat nie hulself keer nie, skeer die barbier homself?
Hierdie boekie bevat allerhande raaisels soos die voorbeelde hierbo, wat ek deur die jare uit boeke, via die Internet, van vriende en vreemdelinge versamel het. By die meeste het ek stories rondom die raaisels geweef. Daar is ʼn mosaïek van verskillende tipe raaisels. Iets van alles.
Die raaisels is ter selfder tyd moeilik en maklik. Moeilik, omdat die meerderheid mense te vinnig opgee. Daarteenoor is dit so maklik en eenvoudig wanneer jy eers die antwoord weet. Dit kos net wilskrag, geduld en denke buite die spreekwoordelike boks. Meeste van die materiaal is suiwer verstandspeletjies nie ʼn graad in fisika of wiskunde vra om die knewels op te los nie.
Mense wat opgee na 'n paar minute het nie regtig probeer nie. Indien jy die vraag nie kan oplos na ʼn paar minute nie, bêre die outjie in 'n veilige hoekie van jou holtes des breinus. Takel dit wanneer jy 'n vry oomblik vir jouself het, soos in ʼn vervelige vergadering, op die vliegtuig of wanneer jou gade jou monoloog.
Jy sal weldra verras word deur jou brein se krag. Die ou is soos ʼn spier. Jy moet hom net oefen. Breinoefeninge verbeter jou brein. Dis ’n feit. Jy denkvermoë verbeter, terwyl jou kapasiteit om probleme effektief op te los vergroot. Natuurlik sal jy beter oor jouself voel, omdat jy skerper en flinker dink. Jou brein raak ʼn mes.
Die antwoorde tot die raaisels word aan die einde van die boekie aangegee.
...
|